‘n Laaste Brief vir Spatz

Foto deur Samarie Smith

Ek het verlede jaar hierdie brief vir Spatz geskryf. Deur Stellenbosch Visio. Ek wonder of hy dit gelees het. Rus in Vrede, meneer Legende.

Beste mnr Sperling

Vir almal is jy Spatz, maar ongelukkig sukkel ek om jou met ’n mossiekuiken te vergelyk, soos wat jou Duitse bynaam beteken. Met jou kenmerkende breërand hoed, kruisbande, fors fisieke teenwoordigheid en permanente wye blink glimlag is die beeld van ’n kuiken van enige aard nou nie juis wat by my verskyn wanneer ek dink aan Michael Spatz Sperling nie. Miskien eerder ’n arend as ’n mossie – ’n wyse arend vol durf en versiendheid en grasie wat met die lugstrome teen die rotswande van Simonsberg sweef en afkyk op Delheim en sien hoe hierdie prins van wynplase nou lyk, en dan terugdink hoe dit was toe jy in 1951 hier aangekom het.

Joune is vir my die storie van een van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se ware setlaars. Gestuur vanaf die verwoesting en desperaatheid van na-oorlogse Duitsland na jou ma se niggie Del Hoheisen en haar man Hans-Otto se plaas Driesprong. Ja, dieselfde stuk majestueuse berggrond waar Delheim steeds staan as een van jou geliefde Stellenbosch se bekendste en gewildste wynplase. Hier het jy aangekom, die 10 pond waarmee jy die Windsor Castle in Engeland betree effens weggekalwe deur die paar drankies op die boot. Dit was al wat jy gehad het. Asook seker ’n bietjie hoop.

Jy het jou familie agtergelaat, mooi herinnerings van jou mense en die poskaartmooi Duitse landskap van jou kinderjare. Maar op 20 jarige ouderdom het jy reeds erge dinge in jou vormingsjare ervaar. Die volle terreur van die Tweede Wêreldoorlog insluitende die gevolge van die bombardeer en verwoesting van Dresden, waar jy op skool was. Jou pa, ’n offisier in die Duitse weermag, tereggestel deur die Russe aan die oorlog se einde.

Die koue, eensame en harde lewe van ’n seun van 15 wat van ligdag tot snags as arbeider op plase moes werk om die familie te help oorleef in ’n verskroeide land. En die honger. Daar was die alewige hongerte, soos in jou memoires vertel.

Die besluit om na Suid-Afrika te kom en die Hoheisens by te staan was dus een deel geleentheid en twee dele oorlewing.

Nou, hier in 2016, het ’n allemintige 65 jaar verloop van die dag toe jy op Delheim – toe Driesprong – met Hans Otto aangery gekom het. En mens kan net sê dat as ’n man se grootheid deur sy prestasies bepaal word, jy nog minder van ’n mossie-kuiken is, maar ’n ware bergreus.

Vir jou moes daardie eerste paar maande gevoel het nie soos sink of swem nie, maar sink dieper of verdrink maar net. Jy kon nie een woord Engels of Afrikaans praat nie, ’n volslae vreemdeling in die vreemde. Jou opleiding as wingerd- en wynboer het, en ek het lekker oor hierdie storie geglimag, voor jou vertrek uit Duitsland geskied in die tuin van ’n appelboer se huis buite die dorpie Tettnang. Een wingerdstok het teen die huismuur gerank, en die boer het jou ’n snoeiskêr in die hand gestop en geleer om die plant te knip. Met so ‘n uur of wat se agterplaas-‘opleiding’ was jy aanvanklik toegerus om ‘n bedryf te betree waarin jy later onuitwisbare spore sou laat op so baie vlakke.

Hier, op Stellenbosch, moes jy vinnig alle fasette van die boerdery en plaaslewe leer. Groente is geboer, ja, maar die wingerde het vir geen man gewag nie. En met jou beperkte kennis van die steil bergwingerde se nukke moes jy omsien na plante met name soos Kaapse Riesling, Hanepoot, Cabernet Sauvignon en Cinsault. En in 1952, minder as ’n jaar nadat jy hier aangekom het, was dit tyd om te leer wynmaak toe die eerste pars aanbreek.

Nou, mnr Sperling, as ek terugdink aan waar Delheim tans is, dan begin ek wonder watter groot deel van die mensdom hulle bearbei met lewenstake waarvoor hulle geensins bestem is nie? Want jy het hier op Stellenbosch per toeval beland, waar jou betrokkenheid by die wyn se mense en die bedryf aanvanklik berus het op oorlewing en hoop. Tog het jy met heldere denke, die pal soeke na geleentheid en – hoor ek – nie ’n geringe mate van hardkoppigheid nie, gesorg dat jou nalatenskap dié van ’n leier, ’n pionier, ’n versiende is. En, boonop, 100% ware mensch.

Vir iemand wat teen die muur van ’n appelplaas van wingerdbou geleer het, het Spatz Sperling van meent af vinnig gevorder. Jy het sommer in 1959 weggestap met die prys vir Beste Droëwit-wyn by die Suid-Afrikaanse Wynskou in die Paarl, met ’n wyn gemaak van Palomino. Ondanks die feit dat jy erken dat jy nie altyd die praktiesste man in die kelder was nie, is dit duidelik dat jy gebore is om die stem van die druif te verstaan – selfs in daardie jare toe jy nog gesukkel het om stemme te hoor wat nie Duits praat nie.

Ek dink jou visie as renaissance-wynman is bevestig deur dat jy van vroeg die konsep van terroir begryp het asook die invloed van grond en klimaat op sekere druifsoorte se potensiaal om goeie wyne te lewer. Delheimse berggronde, tot 480m hoog en met oor die 800mm reënval, was veel meer geskik vir wit druiwe soos Chardonnay en Chenin Blanc. As Delheim die rooiwynspel wou speel, moes hy na ander akkers kyk, en so het jy die grond aan die Klapmuts-kant gekoop. Nog steeds Simonsberg, net laer, dieper gronde waar jy en jou span wynmakers die Cabernet Sauvignon-, Shiraz- en Pinotage-druiwe sien rypword en prima, karaktervolle wyne van hulle begin maak het – en steeds vandag maak.

Streek en identiteit is vir jou belangrik, en die Suid-Afrikaanse bedryf skuld vir jou tesame met Frans Malan en Sydney Back ’n groot dank dat daar reeds in 1973 wetgewing ingetree het om ’n gesertifiseerde wyn van oorsprong-stelsel deurgevoer te kry. Jy en jou vriende het destyds besef dat wyn sonder identiteit maar net ’n kommoditeitsdrankie is, en hoewel die stelsels nooit volmaak is nie kon ons bedryf minstens poog om die belang van wyne se adres deur middel van unieke karaktertrekke weens geografiese oorsprong te bekragtig.  Vandag word dit as ’n gegewe beskou, maar jy was een van die baanbrekers wat dit deurgevoer het.

Die gehalte van Delheim se eie wyne vandag behoort vir jou enorme plesier te gee. Die Chardonnay is van wêreldklas en jy kan die klipgrond en fris berglug in die wyn proe. En ná die eerste bottel, gil die arend sommer ook.

Onder die hande van jou hoofbestuurder en wynmaker, Reg Holder, het Delheim myns insiens ’n slag geslaan deur die Simonsberg-streek te vestig as ’n briljante area vir Chenin Blanc, ook. Ons Stellenbossers is oortuig dat die Simonsberg nou een van die wêreld se mees gerespekteerde wynstreke is, veral vir die rilwekkende Cabernet Sauvignons wat van hier kom, en waarvoor Delheim  ook verantwoordelik is.

Maar glo nou in Delheim om die perdekar om te dop en ’n fenomenale Chenin Blanc in  die mark te sit, iets wat mens met ander oë na hierdie gebied gaan laat kyk. En waarom is ek nie verbaas dat hierdie nuwe klank vanuit die rigting van Delheim gehoor word nie?

Nou die dag sit ek met jou oudste dogter Nora Thiel en Reg buite die restaurant en gesels. Die tafels was vol mense van alle lande wat oor glase koel Chardonnay en donker Pinotage gesit en gesels het, na die noorde gestaar in die rigting van Tafelberg terwyl die bries uit die suide deur Simonsberg gewaai het om ’n snikhete somersdag te verfris.

Victor, jou oudste seun, het oorgekom en ’n vinnige grap met my en sy suster gedeel voordat hy terug is na sy gaste. En ek het só gewens dat jy tussen die mense en die lewensvreugde en die genot van wyn was sodat ek vir jou kon sê: dít is als waaroor die Suid-Afrikaanse wynbedryf gaan, en sonder jou was Delheim nie die gemoedelike wynbestemming wat dit tans is nie. Ja, glo my ons land se bedryf sou ook anders – en soveel armer – gewees het sonder jou en jou mede-wynlegendes se bydrae.

Later het ek gedink ek sou by jou kom inval, maar op 85 is jy seker nie meer so ontvanklik vir ongenooide besoekers as toe jy al daardie jare terug was toe jy in 1971 saam met Frans Malan en Neil Joubert Suid-Afrika se eerste wynroete begin het nie, julle deure oopgegooi om mense aan Kaapse meelewendheid en ons hartlike wynkultuur bekend te stel.

Dus sluit ek af met ’n opregte woord van diepe waardering nie net vir wat jy self fisies gedoen het om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te bring tot waar hy vandag is nie, maar ook om dankie te sê vir die kardinale rol wat jy en die ander pioniers in die totstandkoming en uitbou van die bedryf gespeel het. Dis hierdie erfenis wat sorg dat Wyn Suid-Afrika, nes jou geliefde Delheim, vandag in goeie hande is.

Dis maar al wat hierdie mossie vandag vir die arend wil sê.

Emile

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

3 thoughts on “‘n Laaste Brief vir Spatz

  1. Spatz se familie sal met groot dank die brief gelees het. Hy was ‘n wynmens wat die klein leke soos ek, toe ek by KWV ingeval het, ‘n groter respek gegee het vir wat hier bereik is. Hy was uitgesproke, maar jy kon nooit ophou luister nie. ‘n Groot mens – letterlik en figuurlik – wat ons wynland help grootmaak het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *