Wynreus is Lewendig op Sewentig

Jan Boland Coetzee, een van Suid-Afrika se wynlegendes, het op 20 Januarie 70 jaar oud geword. Emile Joubert klink saam ’n glasie. (Hierdie artikel het in Die Burger van 27 Januarie verskyn.)

Hoewel ek vir Jan Boland Coetzee – steeds “oom” vir my – meer as 40 jaar ken, kan ek nie my vinger plaas op presies waarom hy status as ’n nasionale legende bereik het nie. Daar is baie Springbok-rugbyspelers met meer toetse op hul kerfstok en wynmakers wie se etikette meer medaljes en blinkers dra. Tog is Jan ’n nasionale juweel, een van die land se egte stukke menslike kleinood.

En dit is miskien waarom die legende van Jan Coetzee bestaan: egtheid. Die feit dat hy maar, wel, net Jan is.

Wynliefhebbers sal weet dat een van die dryfvere agter die passie vir wyn daardie soeke is na ’n wyn wat oorval en bekoor met eiesoortige en unieke karaktertrekke. Wyn met sjarme en onnabootsbare persoonlikheid. Daar is ’n paar wyne wat dit het, en in jou leeftyd is jy bevoorreg om ’n paar sulke mense te leer ken. Jan is een. Oor en uit.

Alle legendes moet iewers begin, en die een van Jan kom uit Porterville, geskool op Malmesbury. Op Stellenbosch, om wingerd en wynbou te studeer, het die naam Boland bygekom agter die provinsiale skole-rugbyspan wie se baadjie hy op kampus gedra het.

Toe ek hom in 1974 ontmoet was Jan bekend as Springbok- en WP-rugbyspeler, wat toevallig ook wyn gemaak het op Kanonkop buite Stellenbosch. Maar rugby is tydelik; jy bly jou hele lank ’n wynmaker. En dis in hierdie omgewing waar ván Jan se diepste voetspore lê.

Dis hy wat daardie eerste Kanonkop Pinotage- en Cabernet Sauvignon-wyne van 1973 gemaak het, die briljantheid waarvan genoeg was om die punteneurige kenners te oortuig dat die Springbok darem bietjie wyn kan maak, ook.

boland

Jan is in 1981 vort na Boergondië om by die huis van Joseph Drouhin te werk. En as daar nou een deel van die wêreld is waarmee Jan vereenselwig kan word – buite die Weskus – dan moet dit Boergondië wees. Geen wynstreek op aarde is met meer passie en geloof verbind tot die wisselwerking tussen wyn, grond, klimaat en natuur as wat die Boergondiërs is nie, en dit is maar Jan se taal hierdie.

Praat met Jan oor ’n spesifieke wyn, veral die Pinot Noir en Chardonnay waarvoor hy so lief is, en jy kan maar vergeet van slaphand-wynterme soos “lentebloeisels”, “sappige rooivrug” of “pronkerige sure”. Jan sal eerder verwys na die kleigronde waarin die wyn se wingerde staan, die koel blomtyd van daardie spesifieke oesjaar of die gehalte van die eikehout waarin die wyn verouder is.

Hy is, immers, wynboer voor wynmaker. Kevin Arnold van Waterford Landgoed neffens Jan se Vriesenhof-wingerde, het een aand vir my iets gesê wat ek nooit vergeet het nie. “Wat Jan só ’n goeie wynboer maak is sy passie oor grond en die invloed daarvan op die wingerd en ’n wyn. Wanneer ons ander wynmakers klaar geoes is en na die see ry, sien ek hoe Jan in die wingerde staan, graaf in die hand, besig om te kyk hoe die grond ná die parstyd lyk. Die oes is pas in die kelder, maar hy begin klaar aan die volgende een dink.”

Graaf in die hand, miskien, maar in daardie kop onder die welige silwerhare, is ’n Appel Mac-hardeskyf. Oor vorige oesjare. Wynland-klimaatstoestande. Die karaktertrekke van duisende wyne wat hy al geproe het.

Jan se ou vriend Danie de Wet praat van ’n lopende ensiklopedie. “Jan is beide wetenskaplike en fyn, fyn waarnemer,” sê Danie. “Dan het hy die uitsonderlike vermoë om als wat hy waarneem in daardie legger te bêre en uit te haal wanneer die tyd reg is.”

Miskien is dit wat my die meeste van Jan opval, die feit dat sy gedurige soeke na kennis en sy verwondering van die wêreld rondom hom op 70-jarige ouderdom steeds onblusbaar geesdriftig is. Tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2011 was hy in Nieu-Seeland om die Bokke te ondersteun. Maar tussendeur het Jan argiewe gaan opsoek in ’n poging om uit te vind hoe die Pinot Grigio-druifsoort op Nieu-Seelandse bodem beland het. (Jan se teorie maak ’n draai saam met Napoleon op St. Helena, maar dis ’n ander dag se storie.)

Kom soggens vroeg op Vriesenhof aan, en die inspirasie wat Jan uit sy omgewing put is aansteeklik en besielend: die soutbries van Valsbaai, die dou op een van sy koppe rooikool wat in die groentetuin voor die huis lê; sy herinnering van die Chardonnay wat hy gisteraand gedrink het.

Op 70 is die lewe nie ’n lied nie, maar ’n aria. Om dit te bly hoor, is ’n voorreg.

 

Enjoyed this article?

Subscribe and never miss a post again.

One thought on “Wynreus is Lewendig op Sewentig

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *